‘N KLEUTERSKOOL

‘n Kleuterskool is ‘n plek:

waar ouers hul klein lyfie moet los, sodat Mamma kan terugkeer werk toe;

wat ouers kies om hul kleinding heen te neem vir ekstra stimulasie en om voor te berei vir die ‘groot skool’ wat eendag kom;

waar ouers droom dat hul kleuter sal leer van maatjies-maak deur sosiale interaksie;

waaroor ouers soms wonder, want wat gebeur indien hul kleinding verdwaal tussen al die maatjies of dalk nie die nodige aandag kry nie;

wat ‘n mamma se hart beswaard kan laat, as sy eerder self na haar klein lyfie wou kyk;

wat jou hart-se-punt heeldag oppas en bewaar, terwyl jy moet probeer om normaal te funksioneer in ‘n wêreld wat nooit weer dieselfde sal wees nie, want jy is nou ‘n ouer;

wat ouers later verstom as hul besef dat hul kleuter soveel nuwe inligting, vaardighede en talent ontginning in so ‘n kort rukkie geleer het;

waaroor ‘n mamma-hart nou op ‘n ander manier skuldig voel, want sy sien die skooltjie doen haar kleinding goed, en wonder dan hoekom sy hom/haar nie lankal gestuur het nie;

van soveel emosies, twyfel, blydskap en eerstes, asook ‘n plek van soveel keer omdraai en terugkyk om seker te maak die klein mensie is tevrede.

Liewe Mamma, Pappa, of Voog – mag hierdie skooltjie, wat julle baie spesiaal uitgekies het vir jul kleinding, hierdie allerbelangrike lewensfase se beste herinneringe versamel.

Mag julle hier:

die liefde ontdek wat jul kleuter sal omvou, en wat hy/sy ook weer aan ander gaan uitdeel, terwyl ‘n nuwe wêreld van maats en skoolpersoneel se harte ontdek word;

deur al die twyfel en die onsekerhede, ook al die troos, bevestiging, liefde en omgee kry wat julle as ouers nodig mag hê;

ervaar hoe julle as ouers raakgesien, gedra, aangevul en opgetel word.

Mamma, mag jou koppie hier vol word wanneer dit dolleeg voel.

Pappa, mag jou hart bars van trots met elke skoolfoto wat jy ontvang.

Die reis van ouer-wees bly een van die moeilikste, maar beslis vervullendste paadjies om te stap. Mag die nuwe reis van kleuterskool-bywoning kosbare herinneringe bring vir julle as ouers wat julle, soos daardie styf omhelsende armpies om die nek smiddae na skool, vir ewig kan vasklou en onthou.

Mag ons by Gogga Kleuterskool van die begin af, tot aan die einde van jul skoolpaadjie, deel wees van hierdie avontuur en jul taak as ouers ondersteun en vergemaklik.

Dankie vir die voorreg om hierdie pad saam met elkeen van julle te kan stap en mag ons almal daaraan herinner word dat alles wat ons is en het, deur God se Genade en Genade Alleen is.

Welkom by Gogga Kleuterskool – nou ‘n plek van soveel eerstes, maar ook ‘n plek van soveel laastes die dag wanneer ons kleingoed ‘n volgende nuwe paadjie moet aandurf.

Groete.                                                                          

Runél

Gogga Eienaar (en ook ‘n mede-mamma)

KONTAK ONS VIR MEER INLIGTING

ONS HART

Gogga Speelskool streef na uitmuntendheid, eerlikheid, deursigtigheid en aanpasbaarheid. Ons streef na groei, verbetering en innoverend wees, terwyl ons ‘n omgewing van bekendheid en veiligheid vir elke kleuter skep.

KOM ONS GESELS